So ver as die ooste van die weste

Mei 5, 2012

Nog ‘n beskrywingsoefening

’n Mens ruik dit voor jy dit sien. Vis. Dis ’n stank wat jou twee blokke voor die Gyeongju-straatmark soos ’n muur tref.

 

Die mark is versprei oor ’n paar donker stegies en jy kyk benoud oor jou skouer as jy die lig en die vars lug by die ingang agterlaat. Dit wemel van Koreane, meestal met ’n waentjie vir die aankope wat op twee wiele agterna getrek word.

 

Sodra jou oë aan die donker gewoond raak, is die oorsprong van die stank duidelik. So ver soos wat ’n mens kan sien, is die stegie weerskante volgepak met stalletjies. ’n Verskeidenheid van seekos-produkte bedek die tafels: stokvis, sardientjies, en klein haaitjies. Voor op die grond staan kratte, wat as ekstra pakplek gebruik word. Bo elke stalletjie is ’n tou waaraan die inkvisse soos wasgoed hang. Garnale en klein krappies peul soos vullis by plastieksakke uit, met langsaan grafies om mee te skep. Sommige eienaars het watertenke waarin swart palings om mekaar wriemel.

 

Die vloer is nat en hier en daar bloederig en jy wens jy het daaraan gedink om toe skoene aan te trek. Op jou tone probeer jy ’n pad oopbeur deur die skare na die lig wat jy daar voor sien. Oral hoor jy ’n oor en weer geskree: die universele taal van onderhandeling. ’n Ou tannie druk ’n reuse-krap in jou gesig en skree iets onverstaanbaars in Koreaans. “Nee, dankie!” antwoord jy en buig halfhartig soos beleefdheid vereis. Met die omdraai loop jy jou vas in ’n man wat net voor jou op die grond spoeg. Jy veg opnuut teen die naarheid en begin na die einde van die stegie te hardloop.

 

Buite gekom, hou jy aan beweeg, probeer jy wegkom van die prentjies wat vir altyd vasgevang is. En jy besef opnuut: jy is vér van die huis af.

Advertisements

Neem, eet en onthou

April 17, 2012

(een van die “oefeninge in beskrywing” wat ek die vakansie vir my kursus moes doen)

 

Ma’ Edith skuifel die stranddorp se kerksaal binne saam met haar wit “grootmaak-kinders”.

 

Vir die Goeie Vrydag-diens het sy haar gemaklike werkskoene verruil vir sykouse en kerkskoene. Die over-all is vervang deur ’n kerkrok – swart en wit geruite materiaal met geel borduurwerk op die sakke. In die plek van haar gebruiklike kopdoek, dra sy vandag ’n netjiese wolhoedjie, met lang, silwer oorbelle. As die kerkgaande Vleesbaai-vakansiegangers dit vreemd vind dat daar vandag ’n swart vrou in hul midde is, wys hulle dit nie.

 

Weerskante van Ma’ Edith rol die dogters hul oë vir die klavier-tannie se trekkerige weergawe van “Doen slegs U wil Heer”, raak geïrriteerd met die huilende kind agter in die saal en giggel vir die dominee se ongeorganiseerdheid. Maar sy neem onverstoord deel aan die verrigtinge: staan op wanneer almal anders dit doen, al staan sy swaar; sing saam aan die onbekende liedere, al lê haar bril by die huis. Sy neem en eet die fyn blokkie witbrood, neem en drink die soetwyn volgens die dominee se aanwysings.

 

En toe hul ná die diens stadig teen die bult opstap motor toe, wil-wil die dogters begin mor oor die gevrekte diens, oor die dominee wat “eintlik niks gesê het nie”, en die verkwiste uur. Maar Ma’ Edith glimlag haar wit glimlag met een vermiste voortand: “Dit was nou ’n lékker kerk. So stil!”

Histerie

Augustus 16, 2010

Ek hardloop uitasem en natgesweet by die subway-trappies op en by die Incheon Bus Terminal in. My spoed word gebreek (maar net effens) deur my klein reistassie wat ek agter my aansleep. Na ‘n deurnag-vlug van Bangkok na Incheon (via Beijing) en ‘n uur-lange subway-rit lê die laaste stuk van my reis voor: ‘n busrit Yesan toe, huis toe, stort toe, bed toe.

Maar toe ek voor in die ry kom en met my gebroke Koreaans vra vir ‘n kaartjie op die volgende bus Yesan toe, gee die vriendelike dametjie vir my ‘n kaartjie waarop groot en in bold staan: Departure: 16:00. Ek loer na die groot terminal-horlosie… 14:04. Ek moes die vorige een net gemis het, dink dit was laas baie naby aan 14:00. You have GOT to be kidding me, fluister ek binnensmonds, maar ek weet nie hoe om dit in Koreaans te sê nie, so ek vat my tassie, draai om en oorweeg die opsies vir die volgende twee uur. Ek het ‘n boek om te lees, maar die sitplekke hierbo is vol. En dis warm, ek dink nie die air-con werk so lekker nie. Ek kan seker bietjie in die groot terminal mall rondloop, maar ai, ek is nog nie heeltemal reg vir soveel Koreane na my lekker vakansie van Afrikaans-praat en cocktails drink nie.  Dwing dan maar my bewende lip stil (jy is mos nou mooi groot, Suz), en loop vasberade na van die lockers toe: ‘n mall in Korea op ‘n Sondag is nie gemaak vir moeë meisie PLUS tassie nie.

Maar hierdie lockers is toe meer hi-tech as waarmee ek al te doen gehad het… die instruksies is in Koreaans so ek kan nie heeltemal seker wees nie, maar daar is definitief ‘n vinger-afdruk betrokke by oop- en toesluit. En wanneer en waar die geld dan moet inkom, weet ek glad nie. Maar ‘n mens WIL mos nou nie soos n loser lyk nie, so ek gaan eers badkamer toe, was my gesig, en kom weer uit – hopelik is daar iemand anders wat ‘n locker kry, dan kan ek mos nou kyk hoe dit gedoen word. Dit gebeur toe so, en ek staan so naby as wat moontlik is en loer oor sy skouer wat hy doen. Ok, my beurt. Behalwe…. my instruktreur het die laaste groot locker gevat. My tassie is klein, maar nie klein genoeg vir die mini-handsak-hokkies nie. Sug. Komaan, Suz, dis nie so erg nie, daar sal nog lockers wees. Maar my oë begin so bietjie swem. Omdat ek moeg en gefrustreerd en die air-con nie goed genoeg is nie.

Die vrou by die info-toonbank is baie vriendelik, maar sê ek moet onder in die sentrum gaan kyk/vra of daar plek is, hulle is baie vol, omdat dit naweek en somer-vakansie is. Ok, dan maar af by die roltrappe. Af malhuis toe. Af miernes toe. Met ‘n tassie op wieletjies. Ons stoei deur die food court (…ai, ek is honger, maar ek is nie LUS vir n hamburger nie en nog nie reg vir Koreaanse kos nie) en gaan na die E-mart, daar is ook gewoonlik lockers. Tien minute later staan ek voor dit, nommer 48 is oop. Ek kry die tassie net-net in, tight fit breedte-gewys, maar toe ek die deurtjie wil toemaak is die handvatsel in die pad.

Die tweede vrou by die tweede info-toonbank verstaan nie wat ek sê nie. Sy sê net “upstairs” met haar wysvinger na bo, en hoe meer ek verduidelik “upstairs” is vol, ek hét al gevra (my stem bewe nou erg), kan ek nie my tassie dalk hier by hulle los vir ‘n uur nie, hoe hoër lig sy haar wysvinger. En sê “upstairs” en ‘n paar Koreaanse frases wat ek nie verstaan nie. Ek is te gatvol om my gewone rympie “hangug mal motheyo” (ek praat nie Koreaans nie) te sê. Dis tog obvious as ‘n mens na my gefrustreerde gesig kyk. Ek loop weg, met die flippen tassie steeds agterna. En toe huil ek. Omdat sy ‘n bordjie voor haar het wat sê “I speak English” maar net “upstairs” kan sê. Omdat ek al by die huis wou gewees het. Omdat ek vuil is en nie genoeg geslaap het nie. En omdat ek NET my tassie iewers wil los.

So tussen-deur die trane kry ek ‘n laaste plan: ek sal weer afgaan subway toe, daar is ook lockers. Ek ignoreer die kyke van Koreane wat verstom is om ‘n huilende “foreigner” te sien en loop so doelgerig moontlik, weef vir ons ‘n paadjie deur die massas oop. Die subway bring verligting, daar’s minder mense. En baie oop lockers. Maar, helaas, nie een wat groot genoeg is nie. Ek probeer so halfhartig, asof ek dit dalk kan regkry om hom in te squash, al weet ek dis kleiner as locker nommer 48 by E-mart. Ek klap die deur onnodig hard toe, en ‘n paar omies wat sit en gesels kyk verras na my. En tóé HUIL ek. Omdat my vakansie verby is, en ek môre moet skoolgee, en nog moet voorberei. En omdat ek nie ‘n travel-rugsak gekoop het nie, maar besluit het op hierdie “klein en praktiese” tassie. En omdat ek my op die vlug verbeel het ek vlieg Suid-Afrika toe en dit lekker was.

Die badkamer is gelukkig naby. Ek ignoreer die groepie irriterende Koreaanse skoolmeisies wat voor die spieël (en met hul handspieëltjies in die hand) staan en skinder en giggel. My rooi oë kry dit reg om hul vir ‘n oomblik stil te maak, maar ek kan nie minder omgee nie. Ek staan voor die spieël en gee myself ‘n pep talk, in Afrikaans. Fokus Suz, dis nou wraggies nie so erg nie. Ek haal ‘n paar keer diep asem, was my gesig goed, maak sommer my arms ook nat om n bietjie af te koel, trek die rokkie van my natgeswete rug af weg om af te koel, en blaas my neus. Nog ‘n keer in- en uitasem en ek vat die handvatsel vas. Ek loop mooi regop by die skoolmeisies verby en by die deur uit. Net toe ek wil links draai in die gang loop twee ouens my amper om. Effens geirriteerd dat hul my nie kans gee nie, maar laat hul voorloop: hulle gaan my nie ontstel nie. Nommer een kyk oor sy skouer na my. Kyk voor jou, het jou nog nooit iemand met blou oë gesien nie? Sê iets vir nommer twee, wat toe ook kyk. Ek kyk terug. Vyf tree later kyk hul weer terug. Kyk vóór julle, het julle nog nooit ‘n meisie met rooigehuilde oë gesien nie?

Toe ek weer sien staan nommer een en twee stil en kyk na my. Ek kyk om my en sien… die binnekant van ‘n mansbadkamer. Ek draai so vinnig om dat die tassie op een wiel ry en loop terug, verby die damesbadkamer, verby die lockers, verby informasie-toonbank twee, verby e-mart, op by die roltrappe verby informasie-toonbank een, en sak op ‘n oop stoel neer.

En toe lag ek kliphard.

Omdat ek kan dink hoe ek vir hulle moes lyk, mal meisie (met ‘n tassie) wat hul badkamer toe volg.

Omdat dit amper 16:00 is en ek skielik nie kan onthou hoekom ‘n locker so belangrik was nie.

En omdat ek in Suid-Korea is.

5 maande later…

Augustus 15, 2010

… en ek is toe nie so goed met die gereeld-blog-ding nie.

Hiermee verbind ek my daartoe om harder te probeer. Besluit maar self hoeveel so ‘n verbintenis vir jou werd is!

die begin van… wie weet?

Maart 24, 2010

Aan die einde van laas jaar het ek ’n kursus by my kerk op Stellenbosch gedoen wat spesifiek gefokus het op die oorgang van die studentelewe na die werkende lewe. Die een beeld wat daar bespreek is wat my veral bybly, is dié van die sweefstokarties. Oftewel die ‘trapeze artist’. Die aanbieder het dit gebruik as ’n metafoor vir enige oorgangsfase in ’n mens se lewe. Jy los een deel waaraan jy vir ’n ruk (hoe lank ookal) ‘vasgehou’ het, en gryp die volgende deel as ‘t ware vas. Hierdie sweef-aksie het verskillende dinge en emosies tot gevolg. Een van die eerste goed wat byvoorbeeld gebeur is dat jy jou ‘veiligheidsnette’ check, daai mense of dinge wat jou sal ‘vang’ as… wel, die oorgang nie suksesvol is nie. Dit veroorsaak verder ’n groot stuk angs – daai kort-asem-gevoel wat jou laat vra: “O hel, wat nou?!”. Maar saam daarmee ook ’n ongelooflike inspuiting van adrenalien. Energie. Omdat die onbekende gelukkig nooit nét skrikwekkend is nie, maar ook altyd (ten minste) ’n tikkie opwinding inhou. Hy noem die oomblik wat jy tussen die twee toue hang “an moment of extraordinary aliveness”

Dit bly net ’n metafoor, en soos enige metafoor behoort mens dit nie té ver te vat nie. Maar dit is ’n beeld wat my bybly in een van die eerste groot oorgangsfases in my lewe. Ek het aan die einde van 2009 na 6 jaar se wonderlike rondswaai in Stellenbosch die bekende universiteit-stokkie gelos. En na ’n baie frustrerende maand of twee in limbo, het ek in Februarie Suid-Korea toe gekom om hier te kom Engels gee. Ek loop al lank met die idee om hierdie tyd op ’n blog vas te lê. Maar ek is goed met uitstel en onseker oor blogging en daarom is meer as ’n maand in Korea al verby en ek is stadig maar seker besig om al tien vingers om die nuwe en baie onbekende sweefstokkie vas te kry. Die doel van die blog is nie (so dink ek op hierdie stadium, dalk verander dit!) om ’n dag-tot-dag joernaal van my ervaringe in Korea te skep nie. Alhoewel dit definitief sal feature soos wat ek met die vreemdhede van die Ooste en my eerste regte werk (wat ook nie so regtig is nie) te doene kry. Waaroor wil ek dan skryf? Ek weet nie.

Ek is ’n lopende definisie van die gesegde ‘jack of all trades, master of none’. My belangstellings is wyd en ek probeer om baie daaroor te lees, maar my opinies oor dié belangstellings selde vreeslik oorspronklik of aardskuddend. Ek het byvoorbeeld my kortstondige interaksie met die politieke wetenskap in my voorgraadse jare baie geniet en baie interessant gevind, maar vra my opinie oor grondhervorming en ons regering se benadering daartoe en ek staan met ’n mond vol tande. Die filosofie interesseer my, maar my eie filosofiese raamwerk strek nie veel verder as laataand-gesprekke om kampvure nie. Ek is ’n wedergebore Christen wat graag oor my geloof praat, maar debatte oor die Belhar-belydenis en interdenominasionele (is dit n woord?!) verhoudinge maak my ongemaklik en gevolglik apaties. Ek is lief vir lag, dis een van my gunsteling-aktiwiteite. Ek is ook baie trots op my sin van humor, veral omdat ek vir myself kan lag. Maar ek is nie ’n komediant wat met ’n one-liner mense laat rol van die lag nie. Ek is (op grond van my… kwalifikasie) veronderstel om ’n letterkundige te wees en boeke is een van my groot liefdes. Maar vra my mening oor Dostoyevsky en ek trek eerder ’n Jodi Picoult of Mills en Boon nader – party dae is dit al waarvoor ek kans sien.

Ek weet dus nie wat hierdie blog jou as leser gaan bied nie. Ek weet nie of daar nog ’n inskrywing gaan wees na dié een nie. My redes om te blog is selfs aan my nie heeltemal duidelik nie (ek het onder andere nie te lank gelede nie die woorde “blog” en “pretensieus” in dieselfde sin gebruik…), maar as ek gedwing sou word om dit te beskryf, sou dit op die oomblik ’n kombinasie wees van die volgende: 1. want ek kan. 2. want ek het ’n nuwejaarsvoorneme gemaak om meer te skryf. 3. want ek gaan mal word as ek myself heel jaar net in engels en koreaans (ha!) moet uitdruk. 4. want ek wil hierdie onseker-tyd – meer spesifiek waarmee my kop in hierdie tyd besig is, adrenalien, vrese en ander musings – iewers op ’n manier probeer vaslê. 5. want ek kan.

Dus: sweefstories. As gevolg van die metafoor. En omdat ek nie nou aan iets anders kan dink nie. En omdat ek iewers gehoor het alliterasie is ’n goeie idee 🙂